Ekonomiese & Markoorsig - Mei 2019

Internasionaal

Volgens die jongste Internasionale Monetêre Fonds se halfjaarlikse Wêreld Ekonomiese Vooruitsig, het die sterk internasionale ekonomiese uitbreiding van 2017 en 2018 noemenswaardig begin afneem in die tweede helfte van verlede jaar. Dit dui op 'n sameloop van faktore wat die vernaamste ekonomieë regoor die wêreld beïnvloed. China se groei het afgeneem na 'n kombinasie van nodige, strenger regulatoriese vereistes om skadu-bankwese in te kort en 'n toename in handelspanning tussen China en die Verenigde State. Die Euro-area se ekonomie het meer momentum verloor as wat verwag is. Verbruiker- en sakevertroue het verswak en motorvervaardiging in Duitsland is ontwrig deur die instelling van nuwe standaarde vir toetrede. Belegging in Italië het afgeneem, aangesien soewereine koerse gestyg het en eksterne aanvraag, veral uit ontluikende Asië, het afgeneem. Elders het natuurrampe aktiwiteit in Japan heelwat skade berokken. Handelspanning het sakevertroue al meer geknou wat finansiële marksentiment al swakker gemaak het. Finansiële toestande het in die tweede kwartaal van 2018 vir die kwesbare opkomende markte en daarna in gevorderde ekonomieë later in die jaar, al strammer geword en druk op internasionale aanvraag geplaas. Toestande het in 2019 verslap met die Amerikaanse Federale Reserwebank wat 'n meer tegemoetkomende monetêre beleidstandpunt ingeneem het en markte het meer optimisties geword oor 'n VSA/China-handelsooreenkoms.

As gevolg van hierdie verwikkelinge, word daar nou voorspel dat wêreldwye groei van 3.6% in 2018 na 3,3% in 2019 sal afneem, en daarna weer na 3.6% sal herstel in 2020. Heelwat van die herstel in wêreld groeikoerse in 2020 word gebaseer op groei in China en Indië, en met goeie rede, gegewe hul gewigstoename in wêreld inkomste. Na voortgesette onstuimigheid oor Brexit, is dit nou uitgestel tot 31 Oktober 2019, dit is nog steeds onduidelik hoe die ooreenkoms sal lyk wanneer die Verenigde Koninkryk uiteindelik die Europese Unie verlaat. Die IMF-verslag het bevind dat risiko's vir hulle ekonomiese vooruitsig meer negatief is. 'n Verdere toename in handelspanning en die gepaardgaande verhoging in beleidsonsekerheid kan groei verder verswak. Die moontlikheid bestaan steeds dat marksentiment skielik sal agteruitgaan wat portefeulje allokering weg van risiko-bates, wyer verspreiding oor veilige hawe-sekuriteite en strammer finansiële toestande oor die algemeen sal impliseer, veral vir kwesbare ekonomieë. Onder die moontlike snellers wat só 'n episode kan lei, is ‘n “no-deal” Brexit onttrekking deur die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie, volgehoue swak ekonomiese data wat dui op ‘n verlengde verlangsaming in globale groei, en voortgesette fiskale onsekerheid en verhoogde opbrengs in Italië - veral in kombinasie met 'n dieper resessie - met moontlike nadelige gevolge vir ander ekonomieë in die Euro area- ekonomieë.  'n Vinnige herevaluering deur die markte van die monetêre beleidstandpunt in die Verenigde State kan ook druk op internasionale finansiële toestande plaas. Oor die medium termyn is klimaatsverandering en politieke onenigheid binne die konteks van toenemende ongelykheid die hoof risiko's wat wêreldwye potensiële uitset kan verlaag, met besonder ernstige implikasies, veral vir sommige kwesbare lande. 

Suid-Afrika

Die toename in ekonomiese bedrywighede in Suid-Afrika is steeds teleurstellend aangesien die meeste voorspellings dui op 'n BBP-groeikoers van nie veel meer nie as 1% vir 2019, en net-net meer in 2020. Hierdie faktore, tesame met 'n verlangsaming in huishoudelike verbruik, verhoogde belastings en brandstofpryse, skets 'n donker prentjie vir plaaslike beleggers. Onstabiele kragvoorsiening en stadige internasionale groei hou al meer afwaartse risiko’s vir hierdie groeivooruitsig in. Ten minste het beleid- en politieke onsekerheid effens afgeneem, maar beleggers sal waarskynlik tot na die verkiesing wag om beleggingsbesluite te neem. Die Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), Lesetja Kganyago, het die onafhanklikheid van die Bank (en sentrale banke wêreldwyd) verdedig gedurende 'n toespraak wat hy by die “World Bank Reserves Advisory and Management Program” in April gelewer het. Met spesifieke verwysing na Suid-Afrika, het hy bygevoeg dat die bekendstelling van inflasie-doelstelling in 2000 stadig maar seker die vaslegging van inflasie verwagtinge aansienlik verbeter en die inflasievlak verlaag het. Die afgelope paar jaar, het die SARB probeer om inflasieverwagtings nader aan die middelpunt van die 3-6% inflasiedoelwitreeks te bestuur. Die bank is van mening dat dit beleidsaanpasbaarheid sal verbeter en ruimte sal skep om ekonomiese siklusse te beheer. Hy het twee positiewe verwikkelinge in Suid-Afrikaanse bankwese uitgelig. Die SARB, tesame met ander reguleerders, is tans besig om deposito-versekering en 'n resolusieraamwerk vir banke en ander sistemies belangrike finansiële instellings bekend te stel. Deposito-versekering sal na verwagting die risiko van ‘n stormloop onttrekkings van kleinhandelsbanke verminder, terwyl die resolusieraamwerk die moontlikheid van hulpverlening van privaat krediteure formeel sal bekendstel. Beide regulasies sal die staatskostes van bankmislukkings beperk. 

Suid-Afrikaanse beleggers het die uitslae van die nasionale verkiesing wat op 8 Mei plaasgevind het, met ‘n valk-oog dopgehou. Die nasionale verkiesings-uitslae was as volg vir die top 5:  57.5% vir die regerende ANC-party, 20.8% vir die DA, 10.8% vir die EFF, 3.4% vir die IFP en 2.4% vir die VF+ partye.  Beleggers hoop op ‘n vinnige tempo waarteen die veranderinge binne die regerende party sal voortduur en dit mag dalk net die nodige hupstoot vir verbruiker- en sakevertroue wees.

 

Markprestasie

Volgens Granate Asset Management het finansiële markte ʼn heel goeie prestasie in April aangeteken terwyl ekonomiese data ongeveer in lyn was met verwagtinge en sentrale banke rentekoerse aan die laer kant gehou het.

Plaaslike aandele het ʼn sterk maand gehad met die FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele wat vir die vyfde agtereenvolgende maand positiewe opbrengste aangeteken het. Dit was in lyn met vernaamste internasionale markte waarvan sommige rekord-hoogtes bereik het. Die sterk prestasie kan toegeskryf word aan die waardasiegaping tussen die plaaslike mark en sy ontluikende mark-eweknieë.

Suid-Afrikaanse effekte het swakker gevaar as ander plaaslike bateklasse (behalwe vir kontant), maar gegewe hoe swak wêreld effektemarkte gevaar het, het dit eintlik heel goed gedoen. Dié sterk prestasie was ten spyte van nóg fiskale druk op besighede in staatsbesit en ʼn tekort aan plaaslike ekonomiese groei. Inflasie gekoppelde effekte het ʼn veel beter maand gehad aangesien beleggers hoër toekomstige inflasie verwag het wat deur die effekte ingeprys is.

Die genoteerde eiendom-sektor het sterk herstel, maar die sektor is steeds baie onstuimig. Waardasies kom baie aantrekliker voor, maar die risiko’s verbonde aan die sektor is steeds hoog.

Suid-Afrikaanse Multi-Bate Hoë Aandele Fonds het aan beleggers ‘n gemiddeld 4,8% gelewer die afgelope 12 maande met hul lae aandele-eweknieë wat 6,0% hoër geëindig het. 

Kommentaar - Suid-Afrikaners maak hul kruisie

Suid-Afrika se nasionale verkiesing op 8 Mei was 'n groot fokuspunt vir baie beleggers. Carol Paton van Business Day verduidelik in dié ontnugterende artikel van 30 April,  dit is nie die grootte van die ANC-oorwinning wat tel nie, maar eerder hoe dapper President Ramaphosa kan bekostig om te wees.

Ramaphosa se visie en moed - die kern van SA se toekomstige ontwikkeling

(Hieronder volg ‘n vertaling van ‘n artikel soos gepubliseer in Business Day van 30 April 2019)

Almal van ons - selfs diegene wat sal stem vir die mees sektariese party op die stembrief, die Vryheidsfront Plus - het Cyril Ramaphosa nodig om te slaag. Dit is 'n feit dat van al die deelnemers op die politieke toneel, is Ramaphosa uniek geplaas om SA se huidige trajek/rigting te verander.

Indien die volgende vyf jaar in Suid-Afrika lewensvatbaar gaan wees - in soverre die staat en ekonomie volhoubaar is en redelik goed funksioneer, het ons Ramaphosa nodig om ons daardeur te bestuur. Die vraag is egter of hy kan. Om die trajek te verander, moet hy 'n sterker leier wees as wat hy nou is. Dit is nie net 'n kwessie van 'n paar personeel veranderings en die samestelling van 'n verbeterde, maar nog steeds gebrekkige kabinet nie. Dit beteken dat hy moet aksie neem en die ANC in die regte rigting stuur en die opkomende elite van hul instinkte weglei. Dit beteken tans om van die staat te voed as die vinnigste roete na persoonlike welvaart, sonder om die langtermyn gevolge in ag te neem. Dit beteken dat die staat en regering - en dus die regerende party – heroriënteer moet word, weg van ‘n samelewing wat vasgevang is met die idee om die ekonomie en samelewing te herontwerp. Ons leier moet bestuur word in die rigting van 'n regte-gebaseerde samelewing wat werklik oop is vir besigheid. Indien SA vir nog vyf jaar met 1% tot 2% groei en toenemend versuim om basiese dienste te lewer, sal ons toenemende werkloosheid en stygende sosiale konflik en geweldsmisdaad sien. Kapitaal sal voortgaan om SA te verlaat, so ook die geskoolde arbeidsmag en belastingbetalers, nieteenstaande Ramaphosa se vermanings aan wit burgers om nie hul kinders toe te laat om die land te verlaat nie. Vanuit 'n volhoubaarheidsoogpunt loop SA se tyd uit. In sy jongste boek vra SA se grootste onheilsprofeet, RW Johnson, die vraag: “How did it get to this? How did it happen that the ANC, which had vowed not to follow the path of other liberation movements and fall into corruption, cronyism and elite enrichment, has repeated exactly those mistakes?” Die antwoord, sê Johnson (en nie op 'n mooi manier nie; sy argument is gelaai met afro-pessimistiese veralgemenings), is dit soos in ander postkoloniale Afrika-state, in SA het 'n "burokratiese elite" beheer geneem en dit is die strewe na hul belange wat die staat blootgestel het aan sistemiese korrupsie. Die burokratiese elite is 'n term wat gebruik word deur Marxistiese teoretici om 'n politieke klas te beskryf wat gekoppel word aan die welvaart van die staat en dit gebruik om ekonomiese geleenthede te benut. Dit is 'n interessante opsie dat Johnson, wat 'n voormalige Oxford-historikus en 'n liberalis is, Marxistiese terminologieë as die mees effektiewe analitiese instrument beskou. Sy ontleding verskil nie veel van die van linkse akademici soos Tom Lodge nie, wat die Suid-Afrikaanse staat teoretiseer het as een wat op verhoudings van neo-patrimonialisme gebou is. In hierdie samestelling word die politieke klas bymekaar gehou deur die uitruil van wederkerige gunste gebaseer op begunstiging eerder as om verenig te word deur politieke idees of ideologie. 

Die gevolg hiervan is die afwesigheid van nasionale belang en die onvermoë van leiers om 'n gemeenskaplike visie te bewerkstellig en na te streef, aangesien die politieke agenda voortdurend gebalanseer moet word tussen mededingende gevestigde belange. Dit is waar ons vasgekeer is, vasgevang tussen belange van sektorale groepe wat die politieke keuses beperk.

Om Ramaphosa te vra om hierdie model te verander, is 'n groot taak. Dit sal van hom vereis dat hy die risiko loop om 'n diep skeuring in die ANC te veroorsaak, en as hy verloor kan hy oor vyf jaar vanuit sy pos verwyder word. Tot dusver het hy geen aptyt getoon vir so 'n dobbelary nie en het hy elke keer teruggetrek voordat die geveg selfs begin het. Inkorting van staatsdiens personeel, Eskom-salaris vaspenning, werk afleggings en privatisering is reeds uitgesluit. Of hy kan of sal poog om die geskiedenis te verander, het min te doen met watter persentasie die ANC in hierdie verkiesings behaal. Dit gaan oor visie, strategie en buitengewone moed, 'n soort moed wat nie dikwels in 'n land se geskiedenis voorkom nie. 

Ons het dit gesien in die Mandela-generasie van die 1950's, waar 'n eenheid van buitengewone leiers - Nelson Mandela, Ahmed Kathrada, Walter en Albertina Sisulu en Oliver Tambo – die keuse gemaak het om te breek met die logika van suiwer Afrika-nasionalisme en ‘n veldtog te begin vir 'n nie-rassige SA.

Daardie besluit het nie oor "Mandela magic" gegaan nie, dit is gemaak deur 'n portuurgroep moedige en visioenêre leiers wat 'n byna ondenkbare toekoms vir SA voorgestel het. Ramaphosa wil graag so 'n leier wees. Maar dit sal nie so verbasend wees as hy nie kan wees nie.

Bron : APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar