Ekonomiese & Markoorsig - April 2019

  • News

Internasionaal

Ten spyte van die donker prentjie wat die huidige ekonomiese data skets, veral in Europa, en die Amerikaanse effektekoers-kurwe wat negatief gedraai het, behoort internasionale groei weer toe te neem in die tweede helfte van 2019, volgens 'n onlangse verslag van BCA Research. Hulle ontledings van globale aanwysers dui daarop dat die voorste industriële, sentiment- en selfs sommige handelsaanwysers verswak het. Kredietgroei, 'n hoofaandrywer van groei momentum in die relevante globale sektore van China se ekonomie, neem nie meer af nie en dit lyk asof dit wêreldwye handel in die tweede helfte van die jaar ‘n hupstoot sal bied.   Met betrekking tot internasionale handel, is China se hoof-handel onderhandelaar, Vise-Premier Liu He, in April op pad na Washington vir die laaste rondte onderhandelinge om die tariefstryd tussen die wêreld se grootste ekonomieë, wat 'n negatiewe impak op sentiment regoor die wêreld ekonomie het, tot 'n einde te maak. Vise-Premier Lui He het einde Maart met die Amerikaanse Handel Verteenwoordiger Robert Lighthizer en Tesourie Sekretaris Steven Mnuchin in Beijing ontmoet. Ten spyte van die gerugte dat die partye besig is om 'n ooreenkoms te bereik wat die  handelstryd sal beëindig, stem hulle nog glad nie saam oor kern kwessies soos marktoegang, 'n toepassings meganisme en die beskerming van intellektuele eiendomsregte in China nie. Indien hierdie verskille nie opgelos word nie, kan dit wêreldwye groei nog tot die einde van die jaar beïnvloed.  Indien ons aanneem dat 'n handelsoorlog afgeweer sal word, sal Europa daarby baatvind, asook van 'n beduidende verslapping in finansiële toestande. Laasgenoemde volg op 'n versagting in internasionale groei wat gepaard gaan met die Amerikaanse Federale Reserwebank se geduldiger houding tot rentekoersaanpassings, wat daartoe gelei het dat die wêreld se sentrale banke rentekoerse oor die algemeen laer gehou het. Met rente- en inflasiekoerse op baie lae vlakke, daal die werkloosheid-syfer in Europa en Amerika steeds. Hierdie tendens kan wêreldwye ekonomiese aktiwiteite nog tot in 2020 goed ondersteun, met inflasie druk (veral in die VSA) wat eers dan weer sal kop uitsteek. Die huidige swakker prestasie in markte kan in die tweede helfte van die jaar voorsiening maak vir 'n herstel in groeibates, soos vrese vir 'n dreigende resessie taan.

 

Suid-Afrika

Die Monetêre Beleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank het einde Maart vergader en eenparig besluit om die repokoers onveranderd te hou teen 6,75% (met die prima koers steeds op 10,25%). Wat veral interessant was, is dat hul kwartaallikse projeksiemodel (QPM) steeds een rentekoersverhoging (van 0,25%) voor die einde van die jaar aangedui het, terwyl baie kommentators noemenswaardige rentekoersverlagings voorstel om ons plaaslike ekonomie te help. Ten minste, is een verhoging heelwat minder as die vier verhogings wat aangedui is in die Komitee se verklaring van November verlede jaar.

In sy verklaring meld Goewerneur Lesetja Kganyago dat, alhoewel inflasie die afgelope maande verras het met laer syfers, sal die skerp styging in elektrisiteit-, water- en brandstofpryse inflasie opstoot oor die komende maande. Terselfdertyd het die verhoogde elektrisiteitsbeperkings gelei tot 'n afwaartse hersiening in Suid-Afrikaanse groei in 2019, met die risiko van verdere verswakking. Die Bank het weereens bevestig dat die swakheid in die plaaslike ekonomie grotendeels onverwant is aan rentekoerse. Alhoewel die langertermyn risiko's vir die Suid-Afrikaanse inflasievooruitsig steeds redelik positief is, kan die Bank bekostig om koerse op ys te hou terwyl hulle internasionale en plaaslike verwikkelinge eers fyn dophou, insluitend die roete van internasionale rentekoerse.

Die brandstofprys het die afgelope twee maande met meer as R2 per liter gestyg, wat ekstra druk op Suid-Afrikaners se beursies plaas. Alhoewel verbruikersbesteding die laaste paar jaar die belangrikste drywer in die Suid-Afrikaanse ekonomiese groei was, het 'n paar faktore ‘n demper geplaas op die vooruitsigte vir verbruikersaktiwiteit in 2019. Hierdie faktore sluit die voortgesette swakker plaaslike ekonomiese aktiwiteit, 'n verdere verlangsaming in loongroei soos die private sektor voortgaan om koste te besnoei en bonusse wat al kleiner word aangesien korporatiewe verdienste swaartrek, in. Daar is boonop verhogings in elektrisiteitstariewe wat aan Eskom toegestaan is wat in April in werking tree. Hopelik, sal die sentiment na die Nasionale Verkiesing op 8 Mei begin verbeter, en tot 'n mate van ekonomiese herstel lei.

Laastens het Moody's Suid-Afrika 'n bietjie verligting gegee deur die hersiening van beide die kredietgradering en die graderingsvooruitsig aan die einde van Maart oor te slaan. Die volgende opdatering is in November, wat die regering en besighede grasie gee in hul pogings om Suid-Afrika se lae vlakke van ekonomiese groei - die kredietgradering agentskap se grootste area van bekommernis – ‘n hupstoot te gee.

 

Markprestasie

Suid-Afrikaanse aandele het vir 'n vierde agtereenvolgende maand positiewe opbrengste gelewer met die FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele wat 1,6% gestyg het. Hierdie positiewe opbrengste was egter nie wyd gebaseer nie aangesien twee derdes van maatskappye waaruit die Indeks bestaan, negatiewe opbrengste geregistreer het. Die beste presteerder was Kumba Iron Ore wat die maand 20% hoër afgesluit het, gevolg deur British American Tobacco wat meer as 18% toegevoeg het. Aspen Pharmacare het 'n teleurstellende maand gehad en ongeveer ‘n derde van sy markkapitalisasie in Maart verloor. Die swakker rand (3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar) het druk geplaas op die prestasie van plaaslike banke, versekeringsmaatskappye en kleinhandelaars - die meeste van hulle het die maand in die rooi afgesluit.  Suid-Afrikaanse effekte opbrengste het gedurende die maand in ‘n redelike nou interval verhandel aangesien beleggers huiwerig was om aggressiewe posisies in te neem voor Moody se krediet gradering aankondiging. Plaaslike effekte het die maand sterker afgesluit (1,3% op), in lyn met internasionale markte terwyl dit die verswakking van die rand ignoreer het. Die genoteerde eiendomsektor vaar steeds swak en onderpresteer al die ander plaaslike bateklasse oor beide een en 12 maande aangesien ooraanbod en swak plaaslike groei prysbepalingsmag beperk het.

Aandelemarkte wêreldwyd het in Maart nog ‘n styging ervaar met die MSCI Wêreldindeks (in Amerikaanse dollars gemeet) wat 1,3% hoër afgesluit het. Dit is byna terug op dieselfde vlakke as voor die afverkoping in markte tydens die vierde kwartaal van 2018. Opkomende mark-aandele onderpresteer steeds hul ontwikkelde eweknieë oor die mees betekenisvolle tydperke onder tien jaar. Die moontlikheid van verdere Amerikaanse rentekoersverhogings nader aan volgende jaar kan internasionale beleggers se aptyt om kapitaal te allokeer aan maatskappye met blootstelling aan ontwikkelende markte, bederf.  Suid-Afrikaanse Multi-Bate Hoë Aandele Fonds het aan beleggers ‘n gemiddeld van 5.8% gelewer gedurende die afgelope 12 maande met hul lae aandele-eweknieë wat 6,7% hoër geëindig het. Kommentaar – Om een in een honderd te verander

“Few things are harder to put up with than the annoyance of a good example.”   Mark Twain, Puddin’head Wilson

Peter Lynch, waarskynlik een van die wêreld se bekendste beleggers, het die konsep van 'n "bagger" bekend gemaak. 'n Vyf “bagger”, byvoorbeeld, is 'n aandeel waarvan die prys vyf keer gestyg het, 'n tien “bagger” se aandeelprys het 10 keer gestyg, ensovoorts. Christopher Mayer het ook bygedra tot die populariteit van hierdie term deur sy wonderlike boek “100 Baggers: Stocks That Return 100-To-1 and How to Find Them”. In hierdie boek het die skrywer gedurende die tydperk 1962 tot 2014, 365 aandele wat ten minste eenhonderd keer gestyg het, geanaliseer. Hy het karaktereienskappe wat hierdie maatskappye in gemeen het, ondersoek en het die volgende lys saamgestel: ·         Hierdie maatskappye is dikwels onder eienaar bestuur.·         Hulle het hoë opbrengs op kapitaal.·         Aanvangswaardasies was dikwels redelik.·         Hulle het dikwels klein, eerder as mikro-klein, afgeskop (mediaan markkapitalisasie USD500 miljoen, wat vandag baie hoër sal wees).·         Dit het hulle tipies 26 jaar geneem om 100x te styg ​​(dit is ‘n saamgestelde groeikoers van net oor 19% per jaar).·         Hulle het almal 'n lang aanloop tot vinnige groei gehad. Die meeste beleggingsbestuurders kan heelwat van hierdie karaktereienskappe identifiseer, en só hulle kanse om hierdie ongelooflike groei maatskappye te vind, verbeter. Dit is die vermoë om nie te verkoop wanneer tye moeilik raak nie, wat beleggers van mekaar onderskei. Dit is die beginsel van die "koffiekan-portefeulje”. Dit het alles begin met Robert Kirby, op daardie stadium 'n portefeuljebestuurder by Capital Group, een van die wêreld se grootste beleggingsbestuurs firmas. Hy het die eerste keer in die herfs van 1984 in die Journal of Portfolio Management oor die koffiekan-idee geskryf. " The coffee can portfolio concept harkens back to the Old West, when people put their valuable possessions in a coffee can and kept it under the mattress,” het Kirby geskryf. “The success of the program depended entirely on the wisdom and foresight used to select the objects to be placed in the coffee can to begin with.”  Die idee is eenvoudig: vind die beste aandele moontlik en los hulle vir 10 jaar. Jy het feitlik geen koste met so 'n portefeulje nie. Dit is boonop maklik om te bestuur. Die grootste voordeel is egter 'n bietjie meer subtiel en betekenisvol. Dit werk omdat dit jou teen jou slegste instinkte beskerm. In sy artikel vertel Kirby die storie oor hoe sy idee ontstaan ​​het. “The coffee can idea first occurred to me in the 1950s,” het Kirby geskryf. Op daardie stadium het hy vir 'n groot firma gewerk wat beleggingsadvies aan individue gebied het. Die persoon was reeds vir 10 jaar sy kliënt, toe haar man skielik oorlede is. Sy het sy aandeleportefeulje geërf, en dit in Kirby se sorg geplaas. “Looking at the portfolio,” het Kirby geskryf. “I was amused to find that [her husband] had been secretly piggybacking our recommendations for his wife’s portfolio. Then I looked at the size of the estate. I was also shocked. The husband had applied a small twist of his own to our advice: He paid no attention whatsoever to the sale recommendations. He simply put about $5,000 in every purchase recommendation. Then he would toss the certificate in his safe-deposit box and forget it. In doing this, a wonderful thing happened. Yes, it meant his portfolio had a number of broken stocks that came to be worth $2,000 or so. Small positions. But he also had a few holdings that ended up worth $100,000 each. The kicker, though, was this: he had one jumbo position of $800,000 that alone was bigger than the total value of his wife’s portfolio.” Soos Kirby geskryf het, “[It] came from a small commitment in a company called Haloid; this later turned out to be a zillion shares of Xerox.”  Dit is 'n inspirerende verhaal, 'n oorwinning van traagheid en luiheid. Dit illustreer duidelik hoe die koffiekan-portefeulje ontwerp is om jou teen jouself te beskerm - die obsessie om aandeelpryse dop te hou, die dolle koop en verkoop, die gedurige kommer oor die ekonomie en enige slegte nuus. Dit forseer jou om jou tydshorison te verleng. Jy sit niks in jou koffiekan tensy jy dink dit is 'n goeie 10-jaar plan nie.  Wanneer jy na verskillende beleggingsbestuurders kyk om na jou spaargeld om te sien, mag dit dalk 'n goeie idee wees om hulle uit te vra oor hul siening van die koffiekan-portefeulje. Hulle kan dalk nie altyd die honderd “baggers” vind nie, maar as hulle genoeg potensiële vyf, tien en twintig “baggers” kan vind en daardie posisies behou, kan jy dalk eendag wegstap as 'n baie tevrede belegger.

Bron - APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar