Ons oplossings

‘n Blywende nalatenskap

Soos wat jy jou aftrede nader kom, word bates normaalweg gekonsolideer en ondersoek jy al die opsies tot jou beskikking om die meeste te haal uit jou spaargeld wat jy tydens jou produktiewe lewe bymekaar kon maak. Met ander woorde: jy wil hê dat jou geld vir jou moet begin “werk”. Alhoewel dit ‘n stadium is waartydens baie kliënte dit oorweeg om af te skaal, wil die meerderheid hul bestaande lewensstandaard handhaaf en onafhanklikheid behou. Vir baie is dit die tyd om daardie spesiale droom wat nog altyd uitgestel is, na te jaag, soos om byvoorbeeld ‘n reis in die buiteland te onderneem, of om meer tyd aan gemeenskapswerk te spandeer. Dit is ook ‘n tyd waartydens kliënte die behoud en uiteindelike verspreiding van hul welvaart vir die sekuriteit van hul geliefdes oorweeg.

Die belangrikste risiko wat aangespreek moet word tydens hierdie stadium is sonder twyfel die behoud van jou boedel se waarde.

Kliënte verkeer dikwels onder die verkeerde indruk dat boedelbeplanning net bestaan uit die opstel van ‘n testament ten einde ‘n boedel te beredder by jou, en/of jou gade se afsterwe. Met behoorlike boedelbeplanning kan prosesse tydens jou en jou gade se lewens in werking gestel word om nie net jou boedel te beskerm nie, maar ook om verdere groei in welvaart in jou boedel te skep.

Hoewel daar ‘n mate van onsekerheid bestaan rondom die toekoms van sekere elemente van onder andere die belasting regime van toepassing op trusts, het die Nasionale Tesourie in die eerste helfte van 2013 bekend gemaak dat die voorgestelde wysigings aan belastingwetgewing ten opsigte van trusts nie onmiddellik sal plaasvind nie. Die voorgestelde wetgewing het ten doel om die geleenthede om inkomste te verdeel, en sodoende laer marginale belastingkoerse van begunstigdes te benut, weg te neem, maar dit behoort geen uitwerking te hê op spesiale trusts wat geskep is vir die versorging van kinders of familielede wat spesiale sorg en behandeling benodig nie.

Huidiglik maak die geleibuisbeginsel wat in trust belastingwetgewing toegelaat word, voorsiening dat inkomste wat aan die trust toeval, belas word in die hande van die begunstigde.

Die onderstaande vereenvoudigde voorbeeld dien as illustrasie van hierdie beginsel:

Veronderstel ‘n trust het drie begunstigdes wat almal natuurlike persone is. In die 2013/2014 belastingjaar verdien die trust rente van R75 000 op die kapitaal op belegging. Indien die trust die rente behou en belasting daarop betaal, geniet dit geen vrystellings nie en die 40% belastingverpligting beloop R30 000. Veronderstel nou dat die trust die rente in drie gelyke dele toeken aan die begunstigdes. Die belasting verpligting van elke begunstigde is nou as volg: rente inkomste van R25 000 word ontvang, waarvan R23 800 vrygestel is van belasting (dit sou R34 500 wees vir begunstigdes ouer as 65). Die belasbare balans is dus R1 200 waarop, teen die maksimum marginale koers van 40%, die belasting R480 sal beloop. Die totale belasting betaalbaar op die oorspronklike rente bedrag van R75 000 sal dus R1 440 (R480 X3) beloop.

Pentagon Financial Solutions Pretoria (Edms.) Bpk. kan die kliënt help met boedelbeplanning, die opstel van ‘n trust en leiding gee in die keuse van trustees.