Ekonomiese & Markoorsig – November 2018

  • News

Internasionaal

Ten spyte van die onstuimigheid in beleggingsmarkte, het daar steeds nie veel gebeur wat die gesinkroniseerde wêreldwye herstel van 2017 en 2018 se spoed gebreek het nie. Die Verenigde State van Amerika, in besonder, toon steeds volgehoue ​​ekonomiese groei.

Volgens Torsten Slok, Hoof Internasionale Ekonoom van Deutsche Bank, is daar egter ‘n alternatiewe opinie wat ‘n ander beleggingsimpak sal hê. Sommige kenners is van mening dat ekonomiese groei sterk en verdienste goed is, en die konsensus verwagting is dat dit sal voortduur solank as wat President Trump se korporatiewe belastingverlaging nog ‘n positiewe effek het. Die beleggingsimplikasies van 3% ekonomiese groei is dat Amerikaanse rentekoerse sal styg en aandele beter sal presteer.

Die teenstrydige siening in markte is die idee dat globale kwantitatiewe verruiming (QE) einde se kant toe begin staan en die VSA baie meer staatseffekte uitreik wat, in kombinasie, ‘n kleiner aanvraag na internasionale vaste inkomste en ‘n veel groter aanbod van risikovrye bates beteken. Dit lei weer tot ‘n afname in beleggersaptyt vir riskante bates. Die beleggingsimplikasies hiervan is steeds hoër rentekoerse, maar laer aandeelopbrengste soos internasionale kapitaal terugvloei na veilige hawe bates.

Die punt is, Deutsche Bank verwag heelwat onstuimigheid in die markte (soos ons die afgelope paar maande gesien het), koerse wat geleidelik verhoog, en voortgesette goeie prestasie van Amerikaanse aandele. In kort, die “sterk ekonomie”-siening is steeds meer gewild as die “likiditeitonttrekking”-siening. Die risiko vir die ekonomie is dus nie ‘n resessie nie, maar eerder oorverhitting en ‘n gepaardgaande inflasie oorskryding.

Indien die res van die ontwikkelde wêreld beskou word, is daar tóg tekens wat dui op ‘n verlangsaming in wêreldwye groei in 2019, wanneer die impak van fiskale stimulus in die VSA en die kumulatiewe uitwerking van strenger monetêre beleid hulle begin raak. Daarbenewens word verwag dat China sal onderpresteer ten spyte van onlangse stimulusmaatreëls aangesien kredietgroei steeds onder druk bly. Die aantal items wat deur tariefverhogings geraak word, is slegs ‘n klein persentasie van die totale goedere wat wêreldwyd verhandel. Die nuusberigte oordryf dus die impak van tariewe op internasionale handel.

2019 neem ons in die 10de jaar na die wêreldwye finansiële krisis en sal aan beleggers beide risiko en geleenthede bied. Eersgenoemde behoort bestuur te word, terwyl beleggers hulle voorberei om laasgenoemde optimaal te benut. 

Suid-Afrika

Dit was tot dusver ‘n onstuimige jaar vir Suid-Afrika met finansiële bates wat afgeskop het met ‘n byna euforiese herstel ná President Ramaphosa se oorwinning in Desember 2017, net om daarna weer hierdie winste op te gee namate beleggers se geduld deur die loop van die jaar al minder geword het.

Volgens ‘n verslag wat onlangs deur MRB Partners gepubliseer is (South Africa: Circles or Spirals?) kan die implikasies vir SA beleggers deur die volgende drie punte opgesom word:

  • President Ramaphosa se administrasie word deur die vooruitsig van volgende somer se verkiesing gekniehalter, en geen SA-herstel is volhoubaar sonder duidelikheid oor ekonomiese beleid en/of strukturele hervorming nie.
  • Stygende Amerikaanse Tesourie-opbrengs sal steeds die vernaamste struikelblok vir die rand- en plaaslike valuta-effekte wees, wat steeds nie goedkoop is nie, ten spyte van beduidende swak prestasies vanjaar.
  • Plaaslike beleggers moet seker maak hulle bly reg geposisioneer ​​vir ‘n swakker rand in ‘n multi-bate portefeulje, met ‘n voorkeur vir aandele bo effekte. Die kans is skraal dat beleggers geld sal verloor op SA-effekte in plaaslike geldeenheidterme, maar randverskansings-aandele en dubbelgenoteerde aandele is veel meer aanloklik  binne die konteks van ‘n swak geldeenheid.

MRB noem verder dat President Ramaphosa wel uiteindelik daarin mag slaag om heelwat verbeteringe te maak in die SA-politiek, maar dit sal definitief nie in ‘n verkiesingsjaar wees nie. Voeg hierby swak ekonomiese groei (onder 1%) en negatiewe sentiment teenoor die streek en dis te verstane dat beleggers kapitaal elders wil skuif. Hierdie negatiewe handelstoestande is reeds in waardebepalings ingereken en enige opswaai sal beleggingsmarkte ‘n hupstoot bied.  

Markprestasie

Internasionale aandelemarkte het hul swakste maand in meer as ses jaar aangeteken. Die kombinasie van handelsoorloë, Brexit, Italië se skuld, Amerikaanse rentekoerse, hoë aandelewaardasies en winsnemings (nadat die VSA markte rekordhoogtes bereik het vroeër in die maand) wek kommer by beleggers oor die volhoubaarheid van een van die langste opwaartse ekonomiese siklusse op rekord. SA-aandele het dieselfde roete gevolg en meer as 17% van Augustus se goeie prestasies opgegee na die FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele vir die eerste keer sedert Junie 2016 onder 51,000 gedaal het. Internasionale en plaaslike aandelemarkte het teen die einde van die maand skerp herstel en vir beleggers ‘n bietjie verligting gebied.

SA-effekte het weer swaargekry (-1,7%), na die Mediumtermyn-begrotingsbeleidtoespraak deur die Minister van Finansies, Tito Mboweni, wat slegter as die verwagting was. Die genoteerde eiendomsektor het nog ‘n negatiewe maand aangeteken en het nou, soos alle ander plaaslike bateklasse, swakker gevaar as die geldmark oor die laaste vyf jaar.

Plaaslike aandele, en in besonder nywerheidsaandele (-8,0%) het ‘n besonder moeilike maand gehad met Naspers wat die maand 15% laer afgesluit het. Hulpbronaandele het die maand 4.0% laer afgesluit met die uitsondering van goudaandele soos Sibanye Gold (19.5% op), AngloGold Ashanti (16.7% op) en Gold Fields (15.2% op) wat goed presteer het in die laer-risikobeleggingsomgewing. Finansiële aandele (-3.2%) het ook ʼn negatiewe maand gehad.  Die gemiddelde Suid-Afrikaanse Multibate Hoë Aandele Fonds het die afgelope 12 maande ‘n gemiddeld van 8.4% aan beleggers gelewer, waar die gemiddelde SA Multibate Lae Aandelefonds 7.4% gelewer het.  

Kommentaar – “Ulysses en die Sirenes ”“Ulysses and the Sirens” is ‘n 1909-olieskildery deur Herbert James Draper. Dit beeld ‘n episode uit die epiese gedig, “Odyssey”, deur Homer uit, waar Ulysses (Odysseus) deur die Sirenesange geteister word. Die Sirenes sing ‘n betowerende liedjie wat matrose nader lok, en op die rotse laat vaar en sink. Al die matrose het hul ore met byewas toegestop, behalwe vir Ulysses, wat hulle gevra het om hom aan die mas vas te bind sodat hy die liedjie kon hoor. Hy het hulle verbied om hom los te maak aangesien hy homself dan sou verdrink.

In 2018 het daar nog nie veel verander nie. Vervang Ulysses met die ervare belegger, die matrose met sy/haar adviseurs en die Sirenes met nuusberigte (of bure). Indien jy jou beleggingstrategie gedurende die storm verander, gaan jy beslis op die rotse beland. Ons het hierdie scenario voorheen al gesien afspeel gedurende die wêreldwye finansiële krisis van 2007 tot 2009, die beermark van 2002 en 2003 (na die 9/11 terroriste-aanvalle in New York) en die Asië-krisis in die laat 90’s, om net ‘n paar te noem.  Die geduldige en gedissiplineerde belegger het elke keer die beste gevaar in sulke omstandighede.

As adviseurs, kan dit van waarde wees om te verduidelik waarom beleggers niks drasties moet doen in tye van mark volatiliteit nie. Eerstens, elke bulmark (selfs die mees onlangse een) word altyd deur ‘n beermark opgevolg. So moenie te verras wees nie – dit gebeur. Tweedens, beermarkte is gewoonlik baie korter as bulmarkte en derdens, bly by jou strategie. As jy gedissiplineerd genoeg was om elke jaar sedert 1995 slegs op 31 Desember na jou portefeulje te kyk, sou jy negatiewe prestasie in vier jare ervaar het: 1996, 1997, 2002 en 2008. Met die aanname dat jy ten minste ‘n drie jaar tydhorison gehad het en die dissipline om jou beleggings onveranderd te laat, sou jy die volgende resultate geniet het (opbrengste vir langer as ‘n jaar is nie geannualiseer nie):

Kalender jaar FTSE/JSE ALSI (totale opbrengs Opbrengs in daaropvolgende 2 jaar Totale opbrengs oor drie jaar
1996 -7% 61% 50%
1997 -6% 71% 61%
2002 -8% 46% 34%
2008 -23% 57% 21%

Die gevaar is natuurlik dat ‘n senuweeagtige belegger sy taktiek op presies dié verkeerde stadium sal verander. Om na kontant  (vanaf groeibates soos aandele) te skuif aan die einde van enige van hierdie vier jare sou katastrofies gewees het as jy die uitmuntende prestasies van die daaropvolgende twee jaar in ag neem.

So, waar staan die markte in vergelyking met hulle geskiedenis? Ons het die vyfjaar-rollende prestasie van aandele en gebalanseerde fondse sedert 1994 geanaliseer en met die vyfjaar-rollende inflasiekoers oor dieselfde tydperk vergelyk. Volgens die grafiek hieronder, het gebalanseerde fondse en SA aandele slegs twee keer (oor rollende vyf jaar) sedert 1994, swakker gevaar as inflasie (en in Oktober 2018 redelik naby gekom).

Economic Commentary November 2018 A

Dit is belangrik om te let op hoe vinnig die opbrengste oor vyf jaar weer herstel het vanaf daardie laagtepunte. Die ervare (of goed-geadviseerde) belegger sal weet dat dit nie nou die tyd is om enige skuiwe te maak nie en eerder die soet klanke van die Sirenesange wat mens na die rotse lok, te ignoreer.

Nog ‘n manier om die huidige stand van sake te benader, is om te kyk na waar die huidige aandelemark opbrengste oor die verskillende rollende periodes is. Die grafiek hieronder wys ons die huidige een-, twee-, drie-, vier-, vyf-, sewe- en tienjaar-geannualiseerde prestasie van plaaslike aandele teenoor hul eie geskiedenis oor dieselfde rollende periodes:

Ekonomiese Kommentaar November 2018

Dinge lyk nie heeltemal só sleg nie, behalwe oor tien jaar, waar dit eintlik die laagste opbrengs oor enige rollende tienjaar-periode sedert 1994 is. Kan die markte enigsins laer wees? Moontlik. Sal dinge moontlik van nou af verbeter? Heel waarskynlik, indien vorige tendense iets is om op te gaan. So, hou vas, luister na goeie raad en geniet die rit. Dit is wat Ulysses sou aanbeveel. Ons kantore sal gesluit wees vanaf die 22ste Desember 2018 en heropen op Donderdag 3 Januarie 2019 en maandstate sal eers weer einde Januarie gestuur word. 

Die direksies van Pentagon Financial Solutions en Associated Portfolio Solutions wil graag hierdie geleentheid gebruik om al ons kliënte ‘n vreugdevolle feestyd, en ‘n voorspoedige 2019 toe te wens. Wees verseker dat ons sal voortgaan om u beleggings met die grootste sorg en verantwoordelikheid te bestuur.

 

Gods rykste seën.