Ekonomiese en Markoorsig - Januarie 2019

  • News

2018 sal deur meeste onthou word as 'n moeilike jaar vir beleggingsmarkte. ‘n Konserwatiewe posisie sodat kapitaalverliese nie wesenlik is nie, was die beste roete om te volg. In laasgenoemde opsig het internasionale aandele onlangs skade gely. Die S&P 500 het byvoorbeeld tussen die 1ste en 26ste Desember met 'n beduidende 15% gedaal. In 2018 het die Suid-Afrikaanse aandelemark (soos deur die FTSE/JEB Alle Aandele Indeks gemeet) 'n hoogtepunt van 61 777 punte bereik teenoor 'n laagtepunt van 50 033 punte. Die indeks het die jaar 8.5% laer afgesluit; die eerste negatiewe kalenderjaar sedert die 2008 krisis. Na ‘n inflasie aanpassing, het slegs effekte en die geldmark positiewe opbrengste oor die afgelope een, drie en vyf jaar aangeteken. Hierdie swak prestasie was veral teleurstellend vir beleggers wat nie vergoed is vir ekstra risiko’s wat hulle bereid was om te waag nie. Dit is dus heeltemal natuurlik om ‘n skuif na kontant te oorweeg (wat minder riskant is en die afgelope tyd beter presteer het). So ‘n skuif (alhoewel dit soos die regte, gemaklike keuse voel) is egter oor en oor reeds as 'n onsuksesvolle strategie bewys. 

Internasionaal

Wêreld aandele het in Desember nóg slegter gevaar en die vierde kwartaal van 2018 met 13% laer geëindig in dollar terme). Voortgesette kommer oor handelsoorlogtariewe en ‘n verlangsaming in ekonomiese groei in Europa en China het beleggers laat wegskram van riskante bates. Hierdie risiko-vermyding word weerspieël in die daling in Amerikaanse Effekte opbrengste (die gevolg van beleggers wat beweeg na veilige hawe bateklasse), asook die versterking van die Amerikaanse Dollar en Japannese Yen (wat dikwels gesien word as "veilige hawens" in tye van uiterste onsekerheid). Hierdie internasionale faktore het ook druk geplaas op Opkomende Markte, veral  opkomende markaandele. Die MSCI Indeks vir Opkomende Markte het die jaar 14.2% laer afgesluit (in dollar terme).

Na nóg ʼn verhoging van Amerikaanse rentekoerse in Desember terwyl ekonomiese data steeds stabiel is, het die Voorsitter van die Amerikaanse Reserwebank, Jerome Powell, ietwat meer positief geklink toe hy die verwagte verhogings vir 2019 van drie na twee aangepas het.

Die groter Amerikaanse maatskappye het vroeër waarskuwings rakende die welstand van hul besighede begin uitreik wat nóg kommer oor groei by beleggers gewek het. Apple het hul inkomste verwagtings vir die eerste keer in 16 jaar verlaag en swak iPhone-verkope in China as rede gemeld. Na hierdie aankondiging het Delta Air Lines ook gesê dat hulle tariefinkomste minder sal wees as wat voorheen voorspel is.  

Die jongste loonverslag dui daarop dat die gemiddelde Amerikaanse werknemer ‘n toename in hul lone waarneem. Dit kan verdere druk op maatskappye se winsgrense plaas indien hulle sou besluit om die koste van stygende lone te absorbeer, in plaas daarvan om pryse te verhoog.

In die Verenigde Koninkryk beïnvloed die voortgesette onsekerheid rakende die Brexit-onderhandelings steeds beide sake- en verbruikersvertroue aangesien vrese vir 'n "no deal" Brexit steeds bestaan.   

Die olieprys het in Desember selfs verder gedaal en die vierde kwartaal 35% laer as die vorige een afgesluit. Hierdie skerp afname kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die toename in Amerikaanse skalieproduksie, wat gesorg het dat die toenemende aanbod in die aanvraag kon voorsien. Alhoewel die laer olieprys skadelik is vir produsente, sal verbruikers daarby baat, wat groei kan bevorder en vir ‘n positiewe verrassing mag sorg.   

Tydsberekening in die mark  Die sukses met die skuif van ‘n belegging na kontant hang af van die belegger se vermoë om die tydsberekening van mark-korreksies suksesvol te bepaal. Is dit 'n redelike aanname? Waarskynlik nie. Volgens moderne beleggings-teorie, is dit juis wanneer daar maksimum onsekerheid oor die toekoms is, dat sekuriteite  só  geprys  word dat dit vir beleggers hoër opbrengste bied,  anders sal beleggers nie daarin belê      nie. Wanneer daar minder onsekerheid is, word sekuriteite só geprys dat dit beleggers laer opbrengste bied aangesien beleggers die risiko's as minder onseker beleef. Die netto-effek waar ‘n skuif na kontant gemotiveer word deur persepsies van onsekerheid, en ‘n skuif terug in die mark oorweeg word sodra hierdie onsekerheid afneem, is dat die belegger juis "uit die mark" is wanneer opbrengste heel waarskynlik hoog kan wees, en "in die mark" wanneer opbrengste heel moontlik laag kan wees. Net so belangrik soos dit is om die tydsberekening van die mark reg te kry, is dit belangrik dat die belegger twee besluite korrek moet neem in die volgende volgorde: die belegger moet eerstens op die regte tyd besluit om na kontant te skuif. Tweedens moet die belegger ook op die regte tyd besluit om terug in die mark te beweeg. Selfs waar die belegger die eerste skuif korrek uitvoer, sal dit niks baat indien die tweede skuif nie ook akkuraat uitgevoer word nie."Thinking, Fast and Slow” en trop mentaliteit In sy boek "Thinking, Fast and Slow", verwys Daniel Kahneman na twee hoofstelsels wat mense gebruik om besluite te neem. Die eerste stelsel is ons onmiddellike reaksie. Dit is ons vinnige, intuïtiewe, meestal onbewuste besluitneming stelsel. Die tweede is ons stadige, meer doelbewuste, analitiese en berekende stelsel. Kahneman noem dat alhoewel dit moontlik is vir stelsel twee (logies, analities) om die voorstelle van stelsel een (impulsief, emosioneel) te veto, vereis dit baie inspanning. Volgens hom is stelsel twee van nature lui om dit te doen, en verkies om eerder net te aanvaar wat stelsel een aanbeveel – “system one usually wins the race”. Moderne beleggingsbesluite kan net soveel deur emosie as deur logika aangevuur word, (dalk selfs meer as wat ons wil erken of van bewus is). Kahneman haal ook verder die volgende deur Jonathan Haidt aan: “The emotional tail often wags the rational dog”. ‘n Blik vorentoe   Dit lyk asof 2019 weer 'n uitdagende jaar vir finansiële markte gaan wees, met heelwat geopolitieke, ekonomiese en regulerende vrae wat by beleggers kommer kan wek. In Suid-Afrika sal die verkiesings, die Staatsrede, die Nasionale Begroting, die bekendmaking van krediet graderings en natuurlik die volgehoue ​​uitdagings van Eskom die eerste helfte van 2019 oorheers. Met die oog op die langtermyn, is dit egter nou 'n baie gunstige tyd vir beleggers. Aangesien toekomstige opbrengste deur huidige waardasies bepaal word, is waardasies baie aantrekliker na die onlangse afverkoping teenoor 'n jaar gelede. Beleggers het nou die geleentheid om goeie maatskappye teen 'n afslag te koop. Heelwat van die plaaslike batebestuurders is baie opgewonde oor die geleenthede in plaaslike bateklasse, asook sekere plaaslike aandele (waarvan sommige teen baie aantreklike waardasies verhandel). British American Tobacco is 'n uitstekende voorbeeld; 'n Belegger kan British American Tobacco nou met 'n dividend van sowat 7% kry, baie soortgelyk aan wat 'n belegger in die bank kan verdien, met die bykomende voordeel dat hierdie opbrengs op 'n belasting doeltreffende wyse verdien kan word. Is ‘n skuif na kontant dan werklik die regte keuse? Dit voel ongemaklik om in Suid-Afrika met sy sukkelende ekonomie en voortdurende pessimisme te belê, maar hierdie pessimisme voel tog bekend. Nie baie lank gelede nie, het ons belê in maatskappye wat geprys was vir Armagéddon, 'n belegging wat aan die einde van die dag baie lonend was. Plaaslike beleggings verg tyd en geduld. Ons dink nie dit is onmoontlik vir die aandeelpryse van sommige van die besighede wat ons vandag koop, om met 'n bietjie groei en verbetering in sentiment rondom ons land, dalk selfs te kan verdubbel nie. Die beste benadering wat beleggers nou kan volg, is om by hul belegging strategie te hou en nie enige emosionele besluite te neem nie (selfs al voel laasgenoemde meer gemaklik). Die rasionele belegger sal met die minste littekens deur hierdie periode kom.

                                  

 Colla Kruger - Besturende Direkteur

Japie Neethling - Besturende Direkteur