Ekonomiese & Markoorsig - September 2019

  • News

Internasionaal
Aandelemarkte het wêreldwyd 'n moeilike Augustus beleef met ekonomiese en sosio-politieke nuusgebeure, wat gehandel het rondom die verlangsaming van die internasionale handel en onsekerheid met betrekking tot politieke beleid. Volgens Tantalum Capital het die G7-Beraad nie juis noemenswaardige verwikkelinge opgelewer nie, behalwe vir 'n geleentheid vir President Trump om sy "America First" agenda te bevorder. Amerika en China se oog-vir-'n-oog konflik het beleggers (behalwe diegene wat in Amerikaanse staateffekte en goud belê het) geen guns bewys nie. Ondanks die Trump-administrasie se pogings om voor te gee dat 'n ooreenkoms steeds moontlik is, dui die jongste tariefaankondigings deur die VSA, gevolg deur vergelding deur die Chinese, op 'n beduidende eskalasie in die handelsoorlog. Die onsekerheid oor hoeveel dié spanning nóg kan toeneem, word 'n groot bron van kommer vir ekonome en verhoog die risiko's vir 'n daling in beleggings as gevolg van 'n afname in sakevertroue. Asof dit nie genoeg is om die internasionale aandelemark om te krap nie, het Eerste Minister Boris Johnson die opskorting van die Britse Parlement vanaf die tweede week in September tot middel Oktober aangekonding in 'n skuif wat volgens sekere kritici 'n poging is om parlementslede te verhoed om 'n Brexit sonder ooreenkoms te blokkeer.

As gevolg van die verlangsaming in wêreldwye handel, neem globale vervaardiging ook teen 'n kommerwekkende tempo af. Volgens die Wêreldbank, maak hierdie sektor van die ekonomie 15% van die globale BBP uit, en sal 'n inkrimping in vervaardiging glad nie goed wees vir toekomstige groeiverwagtinge nie. In vergelyking met die res van die wêreld, vaar die Amerikaanse ekonomie redelik goed ... ten minste vir nou. Die vrystelling van die Julie-vergaderingnotule van die Federale Reserweraad se Opemarkkomitee het 'n verdeeldheid onder die lede uitgelig en voorgestel dat verdere verslapping in Amerikaanse monetêre beleid dalk meer gedemp en vertraag sal wees in verhouding tot markverwagtinge (tot President Trump se ergenis). Met kleinhandelverkope, indiensneming en vervaardigingsdata in die VSA wat steeds op goeie groei dui, is kerninflasie in die VSA nou terug op 2,2%, iewat hoër as die Federale Reserweraad se teiken van 2%. Dit verklaar waarom daar 'n sterk argument bestaan vir die Fed om ekonomiese swakheid in die res van die wêreld oor te sien en ‘n positiewe reële rentekoers in Amerika 'n bietjie langer te handhaaf. Dit sal die huidige sterkte van die Amerikaanse dollar teenoor sy handelsmandjie ondersteun - nóg 'n verwikkeling wat nie President Trump se goedkeuring sal wegdra nie.

Suid-Afrika
Suid-Afrikaanse markte het swaargekry, nie net te wyte aan 'n somber wêreldvooruitsig nie, maar ook as gevolg van swak plaaslike ekonomiese data, kommer rondom Moody's se graderings, 'n vertraging in Eskom se herstrukturering en politieke ontevredenheid - veral oor die moontlike implementering van voorgeskrewe bates vir pensioenfondse en ontwikkelinge rakende die jongste Nasionale Gesondheidsversekering-voorstelle.

Daar was egter teen die einde van die maand 'n silwer randjie in sig toe die Minister van Finansies, Tito Mboweni, 'n ekonomiese strategie vir Suid-Afrika gepubliseer het. Dit is 'n omvattende, gedetailleerde strategie en oor die algemeen pragmaties. Die meeste van die idees was reeds voorheen in beleidsvoorleggings, maar van die voorgestelde (mikro) ingrypings is nuwe, vars idees. Die belangrikste is egter dat dit die hele reeks beleidsvoorstelle bymekaarbring en skep 'n gevoel van beleidskoördinering asook 'n holistiese siening van die nodige ingrypings (meestal deur die regering, maar in baie gevalle erken dit dat privaatsektorbydraes nie net nodig is nie, maar ook baie behulpsaam). Die onmiddellike reaksie van die finansiële markte het daarop gedui dat dit in 'n positiewe lig gesien is.

Die algemene klem van die plan is op die verbetering van SA se mededingendheid, om dit makliker te maak om besigheid te doen, en om groeibeperkings te verminder. Dit poog ook om noodsaaklike beleidsekerheid daar te stel. Om groei te bevorder, fokus die strategie op:
• die verbetering van netwerkindustrieë om mededingendheid te verbeter,
• die vermindering van dít wat nuwe besighede belemmer om 'n industrie te betree om die vorming van nuwe besighede te stimuleer,
• die priorisering van arbeidsintensiewe groei om loongroei te bevorder,
• die skepping van meer gefokusde en buigsame industriële en handelsbeleid, en
• die verbetering van uitvoermededingendheid en streekshandel
Dit is nog te vroeg om te beoordeel, maar hierdie inisiatief toon potensiaal in terme van beide sake- en verbruikersvertroue. Dink net wat kan gebeur as die Springbokke daarin slaag om die Webb Ellis trofee op 2 November te verower – gekombineer met die Tesourie se plan – dit kan die katalisator wees vir 'n betekenisvolle hupstoot vir die plaaslike ekonomie.


Markprestasie
Afgesien van effekte en sommige edelmetale (goud in besonder), het die meeste globale en plaaslike bateklasse in Augustus swakker gevaar. Globale aandele (gemeet in Amerikaanse dollar) het die maand 2,3% laer afgesluit, terwyl ontluikende markte byna 5% afgestaan het.

Die opbrengs op die Amerikaanse 10-jaar Staateffek het 'n skerp daling van 2% aan die einde van Julie gehad na ongeveer 1,5% aan die einde van Augustus as gevolg van die wêreldgroei vooruitsigte wat aanhou verswak het. Suid-Afrikaanse effektekoerse het die maand ook laer geëindig, wat tot 'n 1% styging in die Indeks van Alle Effekte gelei het.

Suid-Afrikaanse aandele het steeds in Augustus gesukkel na Julie net so moeilik was, en die JSE Indeks van Alle Aandele het die maand weer 2,4% laer afgesluit. Finansiële en nywerheidsaandele het meer as 3% verloor, terwyl hulpbronaandele slegs 0,2% gedaal het.

Die Rand het in Augustus aanhou verswak teenoor die Amerikaanse dollar en meer as 6% verloor. Dit was egter nie die enigste ontluikende mark-geldeenheid wat swaargekry het nie - die Amerikaanse dollar het in Augustus teenoor die meeste ontwikkelende geldeenhede versterk.

Kommentaar – Diversifikasie: die goedkoop manier om 'n duur fout te voorkom
Ons ken almal die Engelse gesegde "there is no such thing as a free lunch" wat beteken dat dit onmoontlik is om iets verniet te kry. Dit het sy oorsprong in die tradisie van kroeë in die Amerikaanse Wilde Weste om aan elke kliënt wat ten minste een drankie koop, 'n gratis middagete (wat uit kosse met 'n hoë soutinhoud bestaan het) te gee. Sodra die sout begin werk het, het die winsmarge op die verhoogde drankverkope meer as opgemaak vir die kosprys van die middagete. Die middagete was dus duidelik nie regtig gratis nie.

In die derde millennium v.C., sou Chinese handelaars se benadering tot risikobestuur die konsep dat niks werklik gratis is nie, dalk verkeerd bewys het.

Hierdie handelaars, wat deur gevaarlike en onstuimige riviere en strome gereis het, het hul ware oor baie verskillende skepe versprei om die verlies vir een handelaar te beperk indien 'n enkele vaartuig sou sink. Hulle het verstaan wat dit beteken om nie al jou eiers in een mandjie te sit nie.

Aangesien daar geen kostes verbonde was aan die verspreiding van hulle goedere oor meer as een vaartuig nie (of slegs minimale kostes), het die handelaars inderdaad tóg iets gratis gekry - 'n veel laer risiko om alles te verloor. Dieselfde geld ook vir beleggings. 'n Belangrike oorweging wanneer 'n beleggingsportefeulje saamgestel word, is hoeveel opbrengste die beleggers kan verwag vir die hoeveelheid risiko wat hulle bereid is om te neem.

Diversifikasie is 'n tegniek wat risiko verlaag deur beleggings oor verskeie finansiële instrumente, industrieë en ander kategorieë te allokeer. Die doel is om maksimum opbrengste te verkry deur in verskillende areas te belê wat almal verskillend op dieselfde gebeurtenis sal reageer.

Die meeste beleggings adviseurs stem saam dat alhoewel dit nie 'n waarborg teen verliese is nie, diversifikasie die belangrikste komponent is om langtermyn finansiële doelwitte te bereik en terselfdertyd risiko's tot die minimum te beperk. Beleggers staar twee hooftipes risiko's in die gesig wanneer hulle belê. Die eerste kan nie gediversifiseer word nie en staan ook bekend as sistemiese of markrisiko. Hierdie tipe risiko word met elke onderneming geassosieer. Algemene oorsake sluit in inflasiekoerse, wisselkoerse, politieke onstabiliteit, oorlog en rentekoerse. Hierdie soort risiko's kom nie net by 'n spesifieke tipe maatskappy of industrie voor nie, en dit kan nie deur diversifikasie vermy of verminder word nie - dit is 'n risiko wat beleggers moet aanvaar.

Die tweede tipe risiko is diversifiseerbaar. Hierdie risiko staan ook bekend as nie-sistemiese (of eiesoortige) risiko's en is spesifiek tot 'n maatskappy, industrie, mark, ekonomie of land. Dit kan deur diversifikasie verminder word. Die mees algemene bronne van nie-sistemiese risiko's is besigheids- en finansiële risiko. Die doel is dus om in verskillende bates te belê, sodat hulle nie almal op dieselfde manier deur markgebeurtenisse beïnvloed sal word nie.

Gestel, byvoorbeeld, u het 'n portefeulje van slegs goudmynaandele. Indien daar 'n aangekondiging is dat goudmynwerkers vir 'n onbepaalde tyd gaan staak en dat alle mynbedrywighede opgeskort is, kan die aandeelpryse van goudmynmaatskappye daal. Dit beteken dat u portefeulje noemenswaardig in waarde sal verminder

Indien u egter die goudmynaandele met 'n paar platinumaandele in die portefeulje balanseer, sal slegs 'n deel van u portefeulje beïnvloed word. Om die waarheid te sê, is die kans goed dat die platinum-aandeelpryse sal styg, aangesien verbruikers platinum as 'n alternatiewe basis vir luukse juweliersware sal gebruik.

U kan selfs verder diversifiseer aangesien daar heelwat risiko's is wat beide goud- en platinummynaandele beïnvloed. 'n Gebeurtenis wat enige vorm van mynbou beïnvloed, sal beide tipes maatskappye benadeel. Statistici, byvoorbeeld, sal aanvoer dat daar 'n sterk korrelasie tussen goud- en platinumaandele is.

U sal dus oral wil diversifiseer, nie net in verskillende soorte maatskappye nie, maar ook verskillende tipes industrieë. Hoe meer onverwant die aandeelprysbewegings is, hoe beter. Dit is ook belangrik om tussen verskillende bateklasse te diversifiseer. Verskillende bates soos aandele en effekte sal nie op dieselfde manier op negatiewe gebeure reageer nie. 'n Kombinasie van bateklasse sal jou portefeulje se sensitiwiteit vir markskommelinge verminder. Effekte- en aandelemarkte beweeg oor die algemeen in teenoorgestelde rigtings, indien u portefeulje dus oor beide areas gediversifiseer is, sal onaangename skommelinge in enige van die twee deur positiewe resultate in die ander geneutraliseer word.

Laastens, onthou altyd: ligging, ligging, ligging. Diversifikasie beteken ook dat jy na beleggingsgeleenthede buite jou eie geografiese grense moet soek. Onstuimigheid in die Suid-Afrikaanse aandelemark behoort immers nie aandele en effekte in ontwikkelde markte soos Amerika en Europa te beïnvloed nie, beleggings in daardie deel van die wêreld behoort dus die risiko van beleggings slegs in Suid-Afrika te beperk en te neutraliseer.

Die meeste Suid-Afrikaans-gebaseerde gebalanseerde portefeuljes streef daarna om hierdie diversifiseringsdoelwitte te bereik. Diversifikasie kan 'n belegger help om risiko's te bestuur en die wisselvalligheid van 'n bate se prysbewegings verminder. Onthou egter: ongeag hoe goed u portefeuje gediversifiseer is, kan risiko nooit heeltemal uitgeskakel word nie. U fondsbestuurder kan die risiko wat met individuele aandele en effekte geassosieer word, verminder, maar algemene markrisiko beïnvloed byna elke belang in die portefeulje. Die sleutel is om te belê in 'n portefeulje wat 'n goeie medium vind tussen die risiko's wat u bereid is om te neem en die verwagte opbrengs oor die beleggingstermyn. Op dié manier kan u finansiële doelwitte bereik word én u steeds 'n goeie nagrus kry.

NOTA:
Gedurende die volgende maand sal daar kommunikasie uitgaan na alle kliënte wat tans in die APS-fonds van fondse belê is.

Die doel hiervan is om ons oorskakeling van fonds van fondse na 'skoon prys' fondse aan te kondig, aangesien dit die rigting van die bedryf in geheel is.

Die oorskakeling sal die totale beleggingskoste en 'n groter buigsaamheid in die fondse tot gevolg hê. U word vriendelik versoek om die verandering te ondersteun deur die stembrief van een bladsy in te vul en te stem ten gunste van die oorskakeling. Meer inligting sal mettertyd volg.

Bron : APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar