Ekonomiese en Markoorsig - Julie 2019

Internasionaal

Die handelsoorlog tussen Amerika en China het wêreldnuus in Junie oorheers aangesien Presidente Trump en Xi steeds koppe stamp oor handelstariewe en maatskappysanksies. By die G20-beraad gedurende die laaste naweek van die maand, het die twee staatshoofde ooreengekom om handelsgesprekke te hervat. Volgens die BBC-nuus, het dit die voortgesette rusie, wat bygedra het tot die verlangsaming in die internasionale ekonomie, effe kalmeer. In ʼn skuif wat as ʼn groot toegewing gesien word, het Mnr. Trump gesê hy sal Amerikaanse maatskappye toelaat om steeds aan die Chinese tegnologiese reus, Huawei, te verkoop. Hy het ook bevestig dat Amerika nie tariewe sal toevoeg by $300 miljard se Chinese invoere nie en dat hy, vir nou, sal aanhou onderhandel met Beijing.


Wat politiek betref, is baie aandag geskenk aan die verkiesing van ʼn nuwe Konserwatiewe Party-leier (en dus ʼn nuwe Britse Eerste Minister) met Boris Johnson en Jeremy Hunt wat as die twee kandidate gekies is. Hulle verskillende opinies oor Brexit mag dalk uiteindelik die deurslaggewende faktor wees. Die 160 000 lede van die Konserwatiewe Party sal vanaf 6 Julie stem en op hierdie stadium lyk Johnson se kanse die beste om op 22 Julie as Brittanje se volgende Eerste Minister aangekondig te word.


Die Amerikaanse Federale Reserwebank het rentekoerse onveranderd gelaat by hul Junie-vergadering, maar het aangedui dat koersverlagings van tot ʼn halwe persentasiepunt dalk vir die res van die jaar voorlê in reaksie op verhoogde ekonomiese onsekerheid en ʼn afname in verwagte inflasie. Dit is natuurlik totaal in kontras met die situasie ʼn jaar gelede toe verskeie koersverhogings nog ʼn sterk moontlikheid was. Indien hierdie koersverlagings wel realiseer, het dit die potensiaal om die dollar te verswak teenoor die geldeenhede van handelsvennote. ʼn Swakker dollar maak dollar-befondsing makliker en ook makliker bekombaar vir Amerikaanse korporatiewe maatskappye. Tesame met ʼn moontlike handelsooreenkoms tussen Amerika en China, kan dit hulle help om internasionaal uit te brei en hul verskaffingskettings te ontwikkel. ʼn Swakker rand kan ook belegging in ontwikkelende lande aanmoedig en die handelsvoorwaardes van kommoditeitsuitvoerders verbeter. Dít alles bevorder gewoonlik beide internasionale handel en wêreld ekonomiese groei. Die belangrikste is egter dat dit (saam met ʼn stygende aandelemark) President Trump se kanse op ʼn tweede termyn as President sal verhoog.


In só ʼn scenario moet internasionale multibate-portefeuljes beduidende blootstelling aan groeibates (aandele, eiendom en krediet) behou aangesien dit heel moontlik beter sal vaar as veiliger hawes soos globale effekte en kontant.

Suid-Afrika

Ekonomiese groei aan die suidelike punt van Afrika is steeds stadig. Die wyd-gepubliseerde werkloosheidsyfers, operasionele en finansiële probleme van ondernemings in staatsbesit, ʼn tekort aan sake- en verbruikersvertroue en relatiewe hoë reële rentekoerse staan almal in die pad van ʼn oplewing in ekonomiese aktiwiteit. Volgens Kevin Lings van Stanlib, is die skokkende 3.2% kwartaal-op-kwartaal daling in Suid-Afrikaanse BBP, saam met die gedempte inflasiedata (veral kerninflasie), ʼn goeie rede vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank om rentekoerse binnekort te verlaag. Daar word steeds voorspel dat plaaslike inflasie oor die komende maande sal styg en vlugtig bo 5.5% sal styg in die eerste kwartaal van 2020. Alhoewel dit die Reserwebank dalk sal oortuig om koerse onveranderd te laat oor die kort termyn en ʼn “wag en kyk”-benadering tot monetêre beleid te volg, kan die dreigende skerp daling in die petrolprys, gedempte kerninflasie, die swak plaaslike ekonomie en verklarings deur die Federale Reserwebank sowel as die Europese Sentrale Bank wat daarop dui dat hulle rentekoerse onveranderd gaan laat, die Suid-Afrikaanse Monetêre Beleidskomitee dalk laat oorweeg om koerse met 0.25% te verlaag teen Julie.

In wat beskryf kan word as ʼn effe teleurstellende Staatsrede in Junie, het President Ramaphosa vyf fundamentele doelwitte vir die volgende dekade gelys, naamlik:

  • Niemand in Suid-Afrika sal honger bly nie
  • Die ekonomie sal teen ʼn veel vinniger koers groei as die bevolking
  • Twee miljoen meer jongmense sal in diens wees
  • Skole sal beter opvoedkundige uitkomste hê en elke tienjarige sal kan lees met begrip
  • Geweldsmisdaad sal halveer word

Hy het ook bykomende befondsing vir Eskom in 2019 aangekondig en beoog om die beloofde R230 miljard se fiskale ondersteuning oor die volgende tien jaar te befonds.

Die onafhanklikheid van die Reserwebank is ook herbevestig toe die President beklemtoon het dat die Reserwebank hul konstitusionele mandaat onafhanklik moet nastreef, sonder vrees, voorkeur of partydigheid. Laastens is die onderwerp van grondonteiening sonder vergoeding bespreek, maar sonder enige verdere duidelikheid.

Tussendeur al die somberheid, is dit nuttig om te onthou dat die tyd om werklik bekommerd oor Suid-Afrika te wees, tien jaar gelede was. Die uitdagings wat ons nou in die gesig staar, is die resultaat van besluite wat ʼn dekade gelede gemaak is. Die goeie nuus is dat die Suid-Afrikaanse regering hierdie uitdagings darem al begin uitsorteer het en dit mag dalk net lei tot ʼn magdom geleenthede.

Markprestasie

Volgens Granate Asset Management het finansiële markte ʼn baie sterk maand beleef wat gedryf is deur verwagtinge dat sentrale banke rentekoerse gaan sny en optimisme rondom ʼn moontlike positiewe oplossing wat die handelsonderhandelinge betref. Hierdie prestasie kom te midde van algeheel sagter ekonomiese data in beide ontluikende en ontwikkelde markte.

Laer groei en inflasie, asook ʼn waarskynlike verlaging in beleidskoerse, het die Amerikaanse 10-jaar staatseffek vir die eerste keer sedert 2016 na onder 2% gestoot. Die positiewe globale omgewing het Suid-Afrikaanse effekte ondersteun wat ʼn goeie maand beleef het en bygedra het tot die bateklas se opbrengs van 7.6% vir die jaar tot op datum.

Suid-Afrikaanse aandele het ook herstel na ʼn beroerde Mei-maand en die breë FTSE/JSE Indeks van Alle Aandele het die maand byna 5% hoër afgesluit. Nege uit die top tien presteerders onder die groter maatskappye was uit die hulpbronnesektor – beide vir Junie-maand en die jaar tot op datum. Impala Platinum (+90%) en Kumba Iron Ore (+84%) toon tot dusver fantastiese herstel in 2019, terwyl Sappi (-31%), Netcare (-30%) en Aspen (-26%) maar redelik sukkel oor dieselfde termyn. Die Algehele Indeks het die afgelope 6 maande met 12.2% gegroei.

Genoteerde eiendom het ʼn positiewe maand (+1.6%) beleef en is nou in die groen (+3.2%) vanaf die begin van die jaar.

Die Rand het teenoor meeste groot geldeenhede versterk en is nou ongeveer 2% sterker teenoor die Amerikaanse Dollar, Euro en Pond in vergelyking met 1 Januarie se vlakke.

Suid Afrikaanse Multibate Hoë-Aandeelfondse het aan beleggers ʼn gemiddeld van 3.4% gelewer gedurende die laaste 12 maande, met hul lae-aandeleweknieë wat 5.7% hoër geëindig het.

Kommentaar – Praat minder, doen meer

Suid-Afrika beskik oor die tweede grootste ekonomie in Afrika (naas Nigerië) met ʼn jaarlikse bruto binnelandse produk wat heel moontlik tussen R5 biljoen en R5.5 biljoen in 2019 sal wees. Dit maak Suid-Afrika die 32ste grootste ekonomie in die wêreld. Landbou beslaan ʼn verrassende klein porsie van ongeveer 3% (ongeveer R150 miljard) van die totale ekonomiese uitset.

Dit is egter waar dat die beste dinge dikwels in klein pakkies kom. In ʼn land waar daar oorgenoeg slegte nuus in die media is, was dit veral lekker om te hoor hoe sommige landsburgers reeds ʼn manier gevind het om die baie sensitiewe kwessie van herdistribusie van grond te oorkom tot die ekonomiese voordeel van almal betrokke. Ons het op hierdie geval van “praat minder, doen meer” afgekom op een van die mees onwaarskynlike plekke – die 2019 NAMPO Oesdag.

NAMPO Oesdag (dit moet regtig eerder NAMPO Oesweek genoem word) word jaarliks in Mei deur Graan SA aangebied en is die grootste privaat-georganiseerde landbougebeurtenis van sy soort in die Suidelike halfrond. In 2019 het meer as 80 000 mense hierdie vierdag-handelskou besoek. Die NAMPO Park-uitstalarea is ongeveer 20km noord van Bothaville in die Noord-Oostelike Vrystaat geleë. Dit bied ʼn unieke geleentheid aan alle vervaardigers en verspreiders van landboukundige masjiene, produkte en dienste om ʼn wye reeks produkte uit te stal en te demonstreer aan teikenkliënte (en natuurlik nuuskierige besoekers uit die stad ook). Na die landhervormingsdebat, droogte en lae graanpryse van die afgelope jaar, was die joviale en positiewe ingesteldheid van produsente opvallend. “It is noteworthy that the uncertainty is less than last year. I noticed a solution and growth-driven attitude among producers,” het Jaco Minnaar, Voorsitter van Graan SA, gesê.

Dit is by NAMPO se “Nation in conversation”-opnamestudio waar ons kennis geneem het van die ongelooflike vordering wat in landbou gemaak is in terme van grondkwessies. Ons lig graag een van hierdie inisiatiewe hier onder uit. Dit baan die weg vir ander industrieë (soos mynwese en vervaardiging), wat heelwat meer tot Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling bydra, om die uitdagings van die verlede te oorkom en só eksponensiële groei moontlik te maak.

Sinelizwe Fakade is ʼn spesialis in landelike ontwikkeling vir Graan SA in die Oos-Kaap. Die uitdaging wat hy en sy span moes aanspreek was die ondergeskikte oesproduktiwiteit op gemeenskaplike grond wat deur bestaansboere bewerk word in vergelyking met dié van kommersiële boere. Een van die voordele wat die kommersiële boere het, is dat hulle geld kan leen teen die sekuriteit van die grond wat hulle besit, terwyl klein tradisionele produsente tipies nie individueel die grond besit nie en dus baie min sekuriteit waarmee ‘n produksielening bekom kan word. Dit lei tot lae oesproduktiwiteit en ʼn sub-optimale gebruik van die grond met ʼn tekort aan ekonomiese ontwikkeling as gevolg.

Graan SA het ʼn mentor-program begin en in die Sinelizwe streek is daar reeds meer as 4 000 tradisionele boere wat deel is van hierdie program. Deur opleiding, toesig, raadgewing en vennootskappe met kommersiële boere, was hulle in staat om die opbrengste op hul oeste van een of twee ton per hektaar te verhoog na tussen vier en vyf ton, wat in sommige gevalle beter is as tipiese kommersiële opbrengste.

Die belangrikste aspek van Sinelizwe se projek is om die tradisionele leiers, die bestaansboere en die gemeenskapslede almal aan boord te kry. Dit het ʼn rukkie geneem om die vertroue van alle rolspelers te wen en hulle te oortuig dat die inisiatief in almal se belang is, maar die glimlagte was breed toe almal aan boord was en die resultate vir hulself begin spreek het.

Sonder om eienaarskap van grond of tradisionele leierskapstrukture te verander, het Graan SA, tesame met hul privaat- en staatsvennote, daarin geslaag om tradisionele boerdery in ʼn kommersiële opset te omskep wat op nasionale vlak kan kompeteer. Hulle het dit aangepak met die vertroue dat ʼn oplossing bestaan. Hulle glo verder dat die projek momentum sal behou solank hul planne deursigtig bly en tot voordeel van almal wat betrokke is.

Gegewe die grootte van Suid-Afrika se R5 biljoen-ekonomie, is dit maar ʼn druppel in die emmer. Dit mag dalk wel ander inspireer om in hul industrie ʼn manier te vind om skynbaar onmoontlike struikelblokke te oorkom en uitstekende groei op só manier aan die gang te sit. Dit was die Franse outeur, Victor Marie Hugo, wat gesê het: “On résiste à l'invasion des armées; on ne résiste pas à l'invasion des idées.” Dit kan vertaal word as: “Daar is een ding sterker as al die weermagte in die wêreld, en dit is ʼn idee waarvan die tyd aangebreek het.”

Dalk lê die toekoms van Suid-Afrika se ekonomiese sukses in meer as net die groot besluite wat President Ramaphosa in die gesig staar. Dalk lê dit in die klein bydraes wat elkeen van ons kan maak.