Ekonomiese en Markoorsig - Februarie 2019

  • News

Internasionaal

Die nuutste opdatering van die Wêreld Ekonomiese Vooruitsig van die Internasionale Monetêre Fonds dui op swakker globale uitbreiding hierdie jaar. Wêreldgroei vir 2018 word teen 3.7% beraam ten spyte van swakker prestasie in sommige ekonomieë, veral Europa en Asië. Die vooruitskatting is dat die wêreld ekonomie teen 3,5% sal groei in 2019 en 3,6% in 2020. Die internasionale groeivooruitskatting vir 2019 en 2020 is reeds afwaarts aangepas, gedeeltelik as gevolg van die negatiewe uitwerking van tariefverhogings wat verlede jaar in die Verenigde State en China ingestel is. Die verdere afwaartse aanpassing weerspieël gedeeltelik ‘n oorspoel as gevolg van sagter momentum in die tweede helfte van 2018 - Duitsland en Italië ingesluit - maar ook swakker sentiment in finansiële markte en ‘n ekonomiese inkrimping in Turkye wat dieper as wat verwag is, blyk te wees. Die risiko's vir ‘n daling in wêreldgroei het vermeerder. 'n Toename in handelsspanning bo en behalwe dit wat reeds by groeivooruitskattings ingereken is, bly 'n risiko vir die toekoms. Finansiële toestande het reeds verstram sedert die derde kwartaal van 2018. 'n Verskeidenheid faktore, buiten die reeds toenemende bekommernis oor handelsooreenkomste, kan moontlik lei tot ‘n afname in beleggers se risiko-aptyt met negatiewe groei-implikasies, veral gegewe die hoë vlakke van openbare en private skuld. Hierdie faktore sluit 'n "geen ooreenkoms"-onttrekking van die Verenigde Koninkryk vanuit die Europese Unie en 'n groter as verwagte verlangsaming in China, in. Die belangrikste gemeenskaplike prioriteit is vir lande om vinnig ‘n oplossing vir hul handelsverskille te vind en die beleidsonsekerheid wat daaruit spruit, op te los, eerder as om langer skadelike struikelblokke te gebruik en 'n reeds verlangsamende wêreldekonomie te destabiliseer. Regoor alle ekonomieë is maatreëls om potensiële uitsetgroei te bevorder, inklusiwiteit te verbeter, en fiskale en finansiële buffers te versterk te midde van swaar skuldlaste en moeilike finansiële omstandighede, ‘n noodsaaklikheid. Ons is egter nie seker of President Trump hierdie boodskap ontvang het nie. Miskien verkies hy bloot om dit te ignoreer. In kort, ekonomiese momentum in die wêreld is besig om af te neem en onsekerheid oor die makro-ekonomiese omgewing neem toe. Dit lyk asof die markte heelwat hiervan reeds ingeprys het (alhoewel in slegs een maand). Dit beteken, enige positiewe verwikkelinge kan wêreldaandele in 2019 ondersteun. 

Suid-Afrika

Die Monetêre Beleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank het in die derde week van Januarie vergader en met ‘n eenparige besluit rentekoerse onveranderd gehou op 6,75%. Die besluit om die repokoers onveranderd te hou, was in ooreenstemming met markverwagtinge, aangesien vars ekonomiese data steeds dui op verligting in inflasiedruk in die nabye toekoms.

‘n Afwaartse hersiening van die verwagte gemiddelde olieprys oor die volgende twee jaar was die belangrikste motivering waarom die Reserwebank hul inflasievoorspelling na 4,8% (voorheen 5,5%) in 2019 verlaag het. Die aangepaste inflasievoorspelling, tesame met 'n laer ekonomiese groeivoorspelling vir 2019 (1,7% teenoor voorheen verwagte 1,9%), het saamgespan om 'n veel meer afgeplatte geïmpliseerde beleidskoersrigting te lewer, en (van belang vir verbruikers) 'n verminderde risiko vir verdere rentekoersverhogings. Daar is al baie gemaak van President Cyril Ramaphosa se eerste jaar as President en daar is nog nie sekerheid of hy meer sou kon gedoen het as hy nie 'n sterk Zuma-faksie binne die regerende party moes hanteer nie. Hy was wel redelik  besig; volgens Fairtree Asset Management het die President heelwat doelwitte die afgelope 12 maande bereik, onder andere die volgende: ·          Die verwydering van President Zuma in minder as twee maande en die herinstelling van korrupsie aanklagte teen die voormalige President,·          'n Herstrukturering van die Kabinet: die verwydering van 12 geïmpliseerde ministers en die belangrikste, die vervanging van die Minister van Finansies met Minister Tito Mboweni, wat hoog geag word in die beleggings gemeenskap,·          ‘n Versoek van openbare skriftelike voorleggings ten opsigte van grond onteiening, instelling van landwye verhore oor grondonteiening, en die verkiesing van 'n adviespaneel wat bestaan ​​uit grond-, ontwikkeling-, landbou- en regskenners,·          Die afdanking van die NVG- en SAID-hoofde en die aanstelling van 'n nuwe NVG-hoof,·          Die implementering van veranderinge aan die direksies van ondernemings in staatsbesit (Eskom, Transnet, Denel, SA Express, Prasa),·          Versekering van direkte buitelandse beleggings - $50 miljard tot op hede van die $100 miljard doelwit vir 5 jaar,·          Die vasstelling van die openbare sektor se loonooreenkoms vir drie jaar (teen 6-7%, die laagste vlak ooit), en·          Die aankondiging van 'n R50 miljard-fiskale pakket van herprioritisering vir arbeidsektore en infrastruktuur in landbou, landelike areas en informele nedersettings, asook ‘n R400 miljard infrastruktuurfonds (die privaatsektor sal ‘n bykomende R400 miljard belê).

Heelwat moet nog gedoen word, soos uiteengesit in die President se Staatsrede vroeg in Februarie. Ons sal in diepte hierna kyk in ons maandelikse kommentaar.

Markprestasie

Januarie het vir beleggers ‘n bietjie verligting gebring ná 'n moeilike 2018. Soos sentrale banke wêreldwyd meer bekommerd geraak het oor inflasiedruk, het beide plaaslike en internasionale bateklasse goed presteer. Dit is ondanks volgehoue ​​handelspanning tussen die VSA en China, groot onsekerheid rondom Brexit en een van die langste Amerikaanse sluiting van regeringsinstellings (“shutdowns”). Suid-Afrikaanse Genoteerde Eiendomsaandele het beter gevaar in Januarie. Na dit meer as 25% in 2018 verloor het, was die genoteerde eiendomsektor die beste presteerder van die plaaslike bateklasse vir die maand.

Wêreld Aandele het ook 'n positiewe maand beleef ná 'n aaklige Desember. Opkomende markaandele (8,8% hoër in Amerikaanse dollar) kon beter vaar as Ontwikkelde Markte (7,8% hoër in Amerikaanse dollar) aangesien beleggers se risiko-aptyt toegeneem het. Die MSCI Wêreld Indeks vir Alle Lande het die maand 7,9% hoër afgesluit in Amerikaanse dollar-terme. VSA-dollar swakheid gedurende Januarie het van hierdie prestasies vir plaaslike geldeenheidbeleggers versteek.

Suid-Afrikaanse Multi-Bate Hoë Aandele Fondse het aan beleggers ‘n gemiddeld van -2,1% gelewer gedurende die laaste 12 maande met hul lae aandele-eweknieë wat 2,6% hoër geëindig het.

 

 

 

Kommentaar - Wat is die ware toestand van die nasie, waar laat die Staatsrede die Staat?

President Cyril Ramaphosa het onlangs sy tweede Staatsrede(SONA) gelewer sedert hy ‘n jaar gelede aangestel is as President. Daar was in aanloop tot die Staatsrede heelwat  media spekulasie (in Suid-Afrika en in die buiteland) oor die waarskynlike inhoud en trant van Ramaphosa se toespraak, veral in 'n verkiesingsjaar.

Volgens Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, het hierdie debat lig gewerp op hoe belangrik dit is dat die regering sekere groot uitdagings in die land dringend moet aanspreek: ·          Die onsekerheid rakende belangrike ekonomiese en maatskaplike beleid wat die privaat sektor se vaste belegging skade berokken;·          Die noodsaaklikheid om die hervorming van belangrike Staatsbeheerde Ondernemings (SOE's) soos Eskom te versnel;·          Stappe om die doeltreffendheid van regerings-administrasie te verbeter (insluitend 'n vermindering in die grootte van die kabinet en die aantal staatsdepartemente);·          Die vervolging van diegene betrokke by korrupsie te vervolg;·          Die sluiting van privaat/publieke vennootskappe sodat infrastruktuurontwikkeling kan begin;·          Verdere belegging in die privaat sektor aan te moedig.  Die plaaslike ekonomie het die afgelope nege jaar gesukkel om enigsins noemenswaardig te groei, ten spyte van 'n relatief positiewe wêreld ekonomiese agtergrond. Wêreldgroei het oor die laaste dekade gemiddeld met 3% toegeneem, met opkomende markte (onder leiding van China) verantwoordelik vir die grootste deel van hierdie toename in ekonomiese aktiwiteit. In kontras hiermee, reflekteer die Suid-Afrikaanse ekonomie nie hierdie prestasie van die wêreldekonomie nie, met ‘n gemiddelde groei van slegs 1,6% oor die afgelope nege jaar en slegs 1,3% in die afgelope vier jaar. Hierdie onderprestasie word weerspieël in stygende werkloosheidsvlakke, ‘n toename in inkomstebelasting tekorte, verlaagde vlakke van verbruikers- en sakevertroue, 'n uitgerekte vaste belegging-resessie in die privaatsektor, asook kredietafgraderings.  

Stanlib is van mening dat, sonder ‘n volhoubare herstel in ekonomiese groei, dit vir die fiskale owerheid al moeiliker gaan word om hul begrotingsprojeksies te bereik en die land voortdurend die risiko’s van kredietafgraderings, stygende werkloosheid en verdere sosiale spanning in die gesig sal moet staar. Moody's is steeds die enigste groot kredietgraderingsagentskap wat nog aan Suid-Afrika 'n kredietgradering van beleggingsgraad toeken vir beide ons langtermyn buitelandse skuld en ons langtermyn plaaslike skuld. Die agentskap sal Suid-Afrika se kredietgradering weer teen einde Maart 2019 hersien.

President Ramaphosa het 'n optimistiese assessering oor die vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie gelewer en voorgestel dat beduidende vooruitgang reeds in hoofareas van ekonomiese aktiwiteit, dienslewering en die funksionering van die samelewing gemaak is en nog gemaak sal word. Baie hiervan kan en sal bevraagteken word, veral aangesien die onderliggende boodskap van sy opmerkings nie ooreenstem met die huidige prestasie van die ekonomie nie, veral in die huishoudelike sektor. Ten einde 'n beter ekonomiese uitkoms te kan bereik, sal die regering volgens die President op vyf dringende sake fokus. Dit is:·          Inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping;·          Verbeter die onderwysstelsel en ontwikkel die vaardighede wat die land nou en in die toekoms benodig;·          Verbeter die lewensomstandighede vir alle Suid-Afrikaners, veral die armes;·          Verskerp die stryd teen korrupsie en staatskaping; en·          Verbeter die staat se vermoë om die behoeftes van die mense aan te spreek.

Tydens die bespreking rondom die uitvoering van hierdie vyf breë take, het die President 'n besonder ambisieuse verskeidenheid inisiatiewe voorgestel. Dit wissel van verhoogde uitvoere van vervaardigde goedere, meer mededinging in bedrywe, verbeterde toerisme, bekendstelling van private/publieke vennootskappe, verhoogde behuisingsontwikkeling, beter onderwys-uitkomste, die skepping van spesiale ekonomiese sones, die hervorming van Staatsbeheerde-ondernemings, aansienlike verbetering om besigheid meer gemaklik te maak, uitbreiding van jeugindiensneming-inisiatiewe, herverdeling van grond (insluitend grond in besit van die regering in stedelike en landelike gebiede), infrastruktuurontwikkeling tot vordering in die stryd teen korrupsie.

Volgens Kevin Lings verdien die intensie van hierdie inisiatiewe krediet, maar dit is steeds 'n besonder ambisieuse lys van take. Dit is seker te verwagte twee maande voor 'n Nasionale Verkiesing, maar sekerlik is die risiko’s van nog onrealistiese verwagtinge wat tot verdere teleurstelling kan lei, ooglopend. In hierdie opsig kan die Staatsrede gekritiseer word as bloot net nog 'n lys van take en inisiatiewe sonder enige begrip ​​of verduideliking hoekom al die vorige planne nie uitgewerk het nie. Die toespraak het ook nie daarop gefokus om sakevertroue, belegging, groei en indiensneming regstreeks uit te lig nie.  

‘n Sleutelkwessie was egter wel 'n duidelike voorneme om Eskom te herstruktureer en die erkenning dat Eskom in 'n krisis is. Die algehele gevoel is dat Eskom se oorlewing (en waarskynlik baie ander SOE's) die betrokkenheid van die private sektor gaan vereis. Die President het aangedui dat:

Waar ondernemings in staatbesit nie die nodige fondse kan bekom van banke, kapitaalmarkte, ontwikkelingsfinansieringsinstellings of die staatskas nie, sal die regering ander opsies moet ondersoek, bv. strategiese aandeelvennootskappe, of die verkoop van nie-strategiese bates.

  • Wanneer hulp aan Eskom verleen word, moet die regering die nasionale fiskale raamwerk beveilig, 'n positiewe impak op die soewereine kredietgradering behaal en aandag gee aan die regte en verpligtinge van Eskom se finansierders.
  • Die Regering moet stappe neem om munisipale wanbetaling te stuit en die kultuur van wanbetaling wat in sommige gemeenskappe bestaan, konfronteer.
  • Die regering sal Eskom se balansstaat ondersteun, sonder om die fiskus te oorlaai met oormatige skuld. Die Minister van Finansies het meer besonderhede hieroor in die Begrotingsrede bespreek.
  • Eskom sal 'n nuwe besigheidsmodel ontwikkel, wat die daarstelling van drie aparte entiteite insluit – Generering, Transmissie en Verspreiding – alles onder Eskom Holdings. Daar word gehoop dat dit Eskom in staat sal stel om makliker befondsing vir hul bedrywighede van finansierders en die mark te bekom.

In sy finale ontleding van die Staatsrede, sluit Lings af deur te sê dat die hoofpunte waarop die President klem gelê het, verbruiker- en sakevertroue behoort te verbeter. Die fokus skuif nou na die inhoud van die Nasionale Begroting en daarna die uitkoms van die Nasionale Verkiesing in Mei 2019. Hopelik kan die Suid-Afrikaanse ekonomie noemenswaardige vordering begin maak na nege jaar van teleurstelling.