Ekonomiese & Markoorsig – September 2018

  • News

Internasionaal

Internasionale ekonomiese aktiwiteit is sterk, maar minder gebalanseerd as vroeër vanjaar weens die verlaagde sinkronisasie van groeikoerse in die ontwikkelde wêreld. Volgens RMB Global Markets, het geopolitieke risiko’s toegeneem met die moontlikheid van ‘n volskaalse ​​handelsoorlog wat dreig om wêreldgroei totaal en al te ontspoor. Ons het voorheen reeds genoem dat dit ‘n onsekerheid is, maar President Trump se tydige en ontydige twiets oor handelstariewe doen die marksentiment definitief geen guns nie. ‘n Verlangsaming in Chinese aanvraag het ‘n domino effek op groei in kommoditeitspryse (wat afgeneem het) en het ‘n definitiewe plafon op die meeste pryse geplaas. Internasionale monetêre beleid bly akkommoderend, ondanks geleidelike beleidsnormalisering deur die Amerikaanse Federale Reserweraad. Strammer monetêre en finansiële marktoestande, veral in die opkomende mark-omgewing, kan sentrale banke forseer om rentekoerse geleidelik te laat styg teenoor wat in werklikheid eintlik ‘n swakker ekonomiese agtergrond in hierdie streke is. Die grootste risiko vir die 2019-groeivooruitsig is die moontlike oorverhitting van die Amerikaanse ekonomie, wat die Fed dalk sal dwing om beleid te verskerp in reaksie op die inflasionêre druk as gevolg van groter aanvraag.

Opkomende markaandele het die afgelope paar maande swaar gekry, en tot ‘n sekere mate word die swak geldeenheid in verskeie G20-ekonomieë (Argentinië, Brasilië, Rusland, Suid-Afrika, en Turkye) en die dreigende handelsoorlog wat vroeër bespreek is, die skuld gegee.

Verlede maand het die VSA/Mexiko handelsooreenkoms die deur oopgemaak vir ‘n hernieude, driehoekige Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (NAFTA) wat vir President Trump ‘n oorwinning sal gee voor die verkiesing in November en die handelspanning wêreldwyd aansienlik sal verlaag. So ‘n uitkoms sal die spanning verlaag wat deur die oorverkoopte opkomende aandelemarkte verteenwoordig word. Tesame met die beduidende waardasie-afslag wat hulle nou bied, kan hierdie markte dalk ‘n paar positiewe verrassings inhou teen die einde van 2018. 

Suid-Afrika

Die rand het sy swakste maand in meer as vyf jaar beleef, met opkomende markte wat onder druk gekom het, hoofsaaklik as gevolg van die skerp afkope in die Turkse Lira. Granate Asset Management voer aan dat alhoewel handel- en politieke spanning in die VSA die afverkope van die Lira aan die gang gesit het, het die Lira se krisis meer te make met die langtermyn-agteruitgang van die ekonomiese grondbeginsels in Turkye. Dit is hoofsaaklik gekoppel aan toenemende politieke inmengery in die ekonomie – in besonder die onafhanklikheid van die sentrale bank.

Alhoewel die Turkse krisis wel risiko’s vir opkomende markte (Suid-Afrika ingesluit) ingehou het voor die einde van die maand, was daar geen plaaslike ekonomiese data wat die groot afverkoping van die rand regverdig het nie. Aankondigings deur die regering wat die voorblaaie gehaal het (gekoppel aan grondbesit) en verder deur die pers vir sensasie gebruik is, het verdere volatiliteit aan die rand gevoeg.

Stats SA het egter vroeg in September aangekondig dat Suid-Afrika se BBP vir ‘n tweede kwartaal afgeneem het, wat die land in ‘n tegniese resessie gedruk het (dws twee agtereenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping). Dit het heelwat ekonome onkant betrap en ‘n skerp daling in die plaaslike geldeenheid veral teenoor die Amerikaanse dollar veroorsaak. Vorige episodes van soortgelyke rand swakheid is gewoonlik (en uiteindelik) gevolg deur ‘n tydperk van randsterkte. Ons glo nie hierdie keer sal enigsins anders wees nie, selfs al is die rand op hierdie vlakke slegs matig onderwaardeer.

Markprestasie

Op eie bodem was aandele in Augustus die toppresteerder in plaaslike bateklasse (+2,3%) met die hulpbronsektor wat voordeel getrek het uit ‘n waardevermindering in ons geldeenheid wat groter was as die daling in die prys van Suid-Afrika se vernaamste uitvoerkommoditeite. Plaaslike effekte het gedaal (-1,9%), en swakker presteer  teenoor alle ander plaaslike bateklasse, terwyl opkomende markte hul slegste maand in amper twee jaar beleef het en buitelandse beleggers voortgegaan het om Suid-Afrikaanse effekte te verkoop. Die genoteerde eiendomsektor het ‘n sterker maand (+2,1%) beleef, waarskynlik vanaf ‘n veel laer basis, na die sektor se afname sedert die begin van die jaar. Dit het gevolg op ‘n herstel in die prys van die Resilient-groep van maatskappye. Internasionale aandele het in Augustus met 0,8% gestyg in Amerikaanse dollar terme, met verdere verskille tussen ontwikkelde (+1,3%) en opkomende markte (-2,7%, almal in USD). Hierdie opbrengste was veral noemenswaardig vir Suid-Afrikaans gebaseerde beleggers, aangesien die vernaamste internasionale geldeenhede meer as 10% versterk het teenoor die reeds vuisvoos rand.

Die internasionale deel van multi-batefondse het bygedra tot gemiddelde lae en hoë aandelefondse wat die afgelope kwartaal skaflike opbrengste gelewer het en was beter as die van die meeste (indien nie almal nie) plaaslike bateklasse.

Kommentaar – Die Aansteeklikheid van opkomende markte

Die opkomende markkrisis het in Augustus momentum gekry, toe die geldeenhede van beide Turkye en Argentinië met meer as 30% verswak het teenoor die Amerikaanse dollar. Beleggers wat fokus op Suid-Afrika is tereg bekommerd dat hierdie neiging dalk hierheen sal versprei aangesien ons al gesien het hoe breë opkomende markte oor dieselfde kam geskeer word wanneer van hulle ook ernstige krisisse ervaar het. In hierdie geval staan die ekonomieë van Turkye en Argentinië in die middel van ‘n krisis, gegewe hul verhoogde buitelandse valuta-skuldvlakke, maar dit wil tog voorkom asof vrees na ander opkomende markte versprei het. Daar is heelwat bewyse dat Suid-Afrika nie sonder sy eie ekonomiese probleme is nie, maar volgens die batebestuursfirma ClucasGray, weerspreek die swak stand van die rand die ware fundamentele faktore. Die rand het oor die afgelope drie maande tot einde Augustus met meer as 15% verswak en sit die verswakking steeds voort in September. Onderstaande grafiek dui die vlak van kwesbaarheid van sekere ekonomieë op grond van hul buitelandse skuldverpligtinge en buitelandse finansieringsvereistes aan. Terwyl Suid-Afrika nie heeltemal immuun is nie, beklemtoon die grafiek wel hoeveel meer kwesbaar ekonomieë soos Argentinië, Turkye en Chili is.

Ekonomiese Kommentaar September 2018 EEN

Die grafiek hieronder toon dat die FTSE Wêreldindeks vir Aandele meer as 30% beter gevaar het as die JSE in dollar sedert die begin van die jaar. Om hierdie skuif in konteks te plaas, is die 30%-relatiewe hoër prestasie nou net so erg soos die twee vorige opkomende mark-krisisse sedert die 2008-globale finansiële krisis, wat die 2015 wêreldwye “nominale resessie” insluit en in Suid-Afrika ʼn laagtepunt bereik het in die berugte gebeure rondom “Nenegate” in Desember 2015.

Economic Commentary September 2018 TWO

Die onlangse verwikkelinge is kommerwekkend – ‘n valutakrisis bring verskeie ongegronde komplikasies mee. Ons was al voorheen hier, en alhoewel niemand aanspraak kan maak op enige vooruitsig rondom die tydsberekening van ‘n verbetering nie, glo ons dat ons sal kan terugkyk op hierdie tye en sê dat ons beleggers aantreklike geleenthede gebied het deur aktief oor verskillende bateklasse, sektore en onderliggende maatskappye te allokeer.

Bron- APS Maandelikse Ekonomiese Kommentaar